'n Profeet is dood (Rapport, 1990-01-07)
Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek
Etienne Leroux se werk was dikwels profeties. So het hy reeds in 1962 in Sewe dae by die Silbersteins en weer in 1975/76 in Magersfontein, O Magersfontein! die geweldpleging in Soweto voorspel. Bó vertel 'n berig in Beeld van 14 November 1976 die verhaal. Hiernaas wys André Brink ook daarop hoe dit, aan die hand van 'n opsienbare nuwe boek van Umberto Eco, Foucault's Pendulum, in die volgende maande weer bewys gaan word watter baanbreker Etienne Leroux was en hoe hy die opspraakwekkendste dinge in die wêreldletterkunde vooruitgeloop het.
---
By geleentheid van Etienne Leroux se 65ste verjaardag twee jaar gelede het sy jarelange vriend en medeskrywer André Brink in 'n artikel in Rapport (21 Junie 1987) 'n kort waardebepaling gegee van waar Leroux se werk vandag staan.
Hy het dit afgesluit met hierdie woorde:
"En voor die volgende fees gevier word, is daar 'n slotwoordjie wat ek moet inkry, en dit is 'n huldebetuiging aan 'n eienskap wat dié skrywer by uitnemendheid kenmerk: sy integriteit as kunstenaar.
"Op stuk van sake is dit wat mens met Etienne Leroux verbind: die indruk van 'n man wat verbete sy nagtelike vuurkolom bly volg het deur dekades waarin ieder bly woel het om verandering, sonder om hom òf deur modes òf deur enige ander oorweging behalwe die hartstogtelike geloof in sy eie gewete te laat voorskryf. Maklik kon dit nie gewees het nie, maar hy het déúrgeloop tot hier. En daar lê vir hom nog 'n pad voor oop."
Nou, by sy dood, wys prof. Brink in 'n gesprek met Rapport op 'n merkwaardige nuwe ontwikkeling wat saamval met 'n nuwe boek van Umberto Eco, Foucault's Pendulum, wat pas verskyn het en nog nie in Suid-Afrika te kry is nie.
"Hierdie omvattende roman van by die 700 bladsye is op die Kabbala gebaseer, spesifiek die skeppingsplan bekend as die sefiroth - 'n verwysingswêreld wat voortdurend in Etienne Leroux se werk voorkom!
"En as 'n mens nou die lotgevalle van Eco se The Name of the Rose as maatstaf neem, kan jy aanvaar dat hierdie werk weer die hele wêreld op loop gaan jaag oor 'n terrein wat Stephen al dekades lank en vóór Eco verken het.
"En die ironie is dat die man wat eintlik daardie terrein in die literatuur oopgemaak het, in die groot buitelandse literatuur in 'n hoë mate onbekend gebly het.
"Etienne Leroux was die baanbreker, hy het in die klein Afrikaanse literatuur iets oopgemaak wat vir die wêreldliteratuur ter sake is en dit sou ironies wees, maar dit sou mens ook dankbaar maak, as hierdie bekendstelling en amper popularisering deur Eco hier en daar ernstige en avontuurlustige lesers sal terugstuur na die baanbreker Leroux.
"Op 'n manier dui dit ook aan dat hoewel Stephen se werke in baie opsigte kwintessensieel van sestig was, dit tog ook hulle tyd taamlik ver vooruit was.
"In die lig hiervan kan saamgevat word dat wat hom eintlikrelevant gemaak het, is amper die Derde Oog-kwessie... dit wat Eco nou ook weer benadruk waarskynlik sonder om te weet van Etienne Leroux: die mens se onuitblusbare hartstog na 'n absolute, na daardie Derde Oog van Insig wat mens op baie dwaalweë lei omdat die Boom van Kennis vir goed in die Paradys agtergebly het, maar tegelyk 'n boom bly waarsonder ons gewoon nie kan bestaan nie," sê prof. Brink.
---
Hy sluit af: "Onvermydelik, as so iemand doodgaan, is daar so 'n hele skatkamer van herinneringe wat mens oopgrawe en die bepaalde soort wrang humorsin en die vermoë om iets grotesks in die mees alldaagse te herken en die soort stil beminlikheid wat hy gehad het... sy vermoë om met baie stilte en min woorde 'n soort wysheid oor te dra wat anderkant kennis lê.
"Dit is vir my iets waarby luidrugtiger jonger generasies heelwat sou kon lees.
"Ons het gewoon met hom 'n stem met kwaliteit verloor wat baie moeilik indien ooit deur ander gevul sal kan word."