'n Besoek, vanweë die onbewuste (Insig, 1999-12-01)

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

Hy lyk anders as wat ek hom onthou: ouer miskien en dalk gehawender. Met 'n rooi, ongesonde blos en kortasem. Nou was die ylerige hare se punte netjies geskroei; die baard versorg. Aan sy sy het die swart leerbaadjie se punt vasgehaak aan die velsakkie aan sy gordel. Hy het half bysiende na 'n sigaret getas, eers 'n Strepsil-pakkie raakgevat, toe een opgesteek, behaaglik teruggeleun en diep geteug.

Hoflik soos altyd wou hy eers alles weet van die gesin, die akademie en die letterkunde. Ook of die spieëls nog in my huis is soos ek plegtig belowe het. Die Boeing is verby, het hy later gesê en 'n paar Black Labels by 'n verveelde kelnerin bestel. Hy was verbaas oor die "shopping centre" wat net so uit "Die derde oog" sou kon kom, want hy was lanklaas in Bloemfontein en volg ook nie juis die verwikkelinge hier te lande nie.

Simpatie met klein Van Schalkwyk had hy darem, uit ou lojaliteite en omdat dié mannetjie alles moes probeer regmaak wat geslagte opgefok het. Omdat hy nie meer kan skryf nie, lees hy maar en dit het nou juis so gebeur dat Afrikaanse boeke daar IN DIE VRYSTAAT die volopste is. Wat hy nooit wou nie, moet hy nou maar noodgedwonge doen, sy jig- aangetasde vinger op die pols van die Afrikaanse letterkunde probeer hou.

Na Chris se jongste sien hy uit want hy't altyd gedink die televisie was sy doodsteek. André se werk laat hom dink aan 'n jagse ou bok wat al speelser raak soos hy ouer word; Braam raak te slim en Jan te stil. Van die jong klomp het Henning Pieterse hom geraak; beter nog as die Kaapse kortverhaalskrywers wat meer styl as "passion" het. En het hy verbaas opgemerk, selfs hy kan sien dat hy die jongklomp beïnvloed het. Tom Dreyer en Jaco Fouché herinner hom by tye half ongemaklik aan sy eie jeugwerk; Etienne van Heerden worstel ook nog met magie en mite soos hy in sy tweede trilogie.

Dit was groettyd. Ek wou nog vertel van die besoek aan Magersfontein die vorige week toe hy opmerk dat hy móét gaan. Al spoor van sy besoek was 'n glimmende, skoon asbak en vier leë blikkies bier.

- H P van Coller is die verbeeldingryke hoogleraar in Afrikaans en Nederlands by UOVS

Persoonlike gereedskap