'n Baie gepaste viering (Die Burger, 1984-12-20)
Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek
J.P. Smuts
DIE SILBERSTEIN-TRILOGIE deur Etienne Leroux,
Human & Rousseau,
Kaapstad, 1984.
R19-95 plus AVB.
Etienne Leroux het die afgelope vyf en twintig jaar ontwikkel tot die belangrikste prosaïs in Afrikaans en Human & Rousseau tot een van ons vernaamste uitgewerye. Sedert 1962 het Leroux al sy romans by hierdie firma gepubliseer en hy het daardeur 'n belangrike bydrae gelewer om dié uitgewery in kaart te plaas.
Dit is daarom besonder gepas dat Human & Rousseau by geleentheid van die viering van hulle vyf en twintigste bestaansjaar drie van Leroux se beste romans in een band uitgegee het, t.w. Sewe dae by die Silbersteins (1962), Een vir Azazel (1964) en Die derde oog (1966).
Dié drie werke vorm die tweede trilogie van Leroux se negedelige romansiklus wat strek van Die eerste lewe van Colet (1955) tot Na'va (1972). Die derde oog is nie een van die sterkste werke in die siklus nie, maar die ander twee vorm hoogtepunte binne Leroux se oeuvre en kan as van die beste, indien nie die heel beste, romans in Afrikaans beskou word.
MOORD
Leroux hou hom in hierdie romans, soos trouens in feitlik al sy ander werk, besig met die bestaansprobleme van die moderne mens binne die veeleisende en dikwels ook dekadente maatskappy waarin hy hom bevind. Die beeld wat hy hiervan gee, ontplooi hy veral teen die agtergrond van die insigte van die Switserse sielkundige C.G. Jung. Jung was van mening dat die hedendaagse rasionele mens noodlottig gestroop geraak het van die mites en simbole wat vir hom as ankers in sy bestaan gedien het.
Dit is hierdie wêreld van geestelik ontheemdes wat Henry van Eeden, die ongeskonde paradysmens, betree en waarbinne hy sewe dae lank ronddool voordat hy uiteindelik geïnisieer is en deel kan word van die mikrokosmos Welgevonden.
Binne dieselfde Welgevonden moet die speurder Demosthenes H. de Goede agtien jaar later die moord op die prostituut Lila ondersoek. Dit is 'n moord waaraan die hele dekadente samelewing deel het, maar dié gemeenskap sorg terselfdertyd dat die één onskuldige en weerlose persoon onder hulle tot sondebok gemaak word om hulle kollektiewe skuld te dra.
AANDUIDINGS
De Goede staan ook sentraal in Die derde oog, waar hy die tycoon Boris Gudenov moet opspoor en tot die lig bring. Sy soektog voer hom deur Gudenov se shopping centre Oita, simbool van die verworde lewe wat deur almal veroordeel maar deur niemand verwerp word nie. Die stadsruimte verkry hier 'n fantastiese element wat dit nog nie voorheen in Afrikaans gehad het nie.
Met hierdie meer tematiese aanduidings is nog niks van Leroux se strukturele vermoë gesê nie. In Sewe dae by die Silbersteins is daar die aansluiting by die alchemistiese proses, die Jungiaanse individuasieproses en die skeppingsgeskiedenis, in Een vir Azazel die geniale omkring van die speurverhaalpatroon, in Die derde oog die herbenutting van die agtervolgingsroman en die effektiewe inskakeling van die Herakles-mite.
HOOGTEPUNT
Maar ten slotte is die die skitterende tonele wat 'n mens miskien die sterkste bybly: die fassinerende inset van Sewe dae by die Silbersteins en momente soos die skree in die stoomkamer en die spoeg in die stookwyn, en bowenal die steniging van die Reus in die slot van Een vir Azazel - nie alleen 'n hoogtepunt binne die roman nie, maar ook binne die Afrikaanse letterkunde.
Met die byeenbring van hierdie drie belangrike romans in een band, gee Human & Rousseau op tasbare wyse erkenning aan ons belangrikste prosaïs. Maar meer as dit: die firma herinner ons daaraan dat hy sedert sy vroegste jare bereid was om sy verantwoordelikheid teenoor die Afrikaanse letterkunde na te kom. Daarvoor verdien hy ons almal se dank.