'18-44' - Hier Kom Ek, Etienne Leroux! (Dagbreek en Sondagnuus, 1967-10-01)

Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek

Spring na: navigasie, soek

Daar Word Sommer Padlangs Oor Die Liefde Gesels

Sjoe! Ek is nou net deur Etienne Leroux se "18-44" - en ek is warm om die boordjie, en die ene knoppiesvel. Ek stem saam met die uitgewers se aankondiging op die skutblad: "Leroux se nuwe werk sal, soos gewoonlik, 'n gebeurtenis in die literêre wêreld wees."

Hoevéél in die letterkundige wêreld, weet ek nie (want ek is geen letterkundige nie) maar ek weet dat in die gewone wêreld waarin ek leef, dit ander soort opslae gaan maak. Hierdie Sestiger-manne praat 'n ander taal en hulle noem 'n ding sommer kaalkop op sy naam. "Kaal" is die woord.

Van die park-romanse wat in die roman beskryf word, weet ons gou-gou: "En meteens begin die park wals, en ek word met liefde vervul, met die sagte Rus (die vrou) in my arms.

"Ek kon 'n goeie skrywer gewees het; wat het... wat het Jesus Christus met my aangevang?

"Hy waarsku my ook, die God van liefde, téén die liefde."

VRUGBAAR

Die eerste persoon in die boek is slegs "Y", en na sy vrou word konsekwent verwys as die "dowe, mank, maniesdepressiewe vrou." Op 'n ander plek word bygevoeg dat sy die "dogter van die goddêm Swartlandse dronk slagter" is.

'n Onbekende 18-jarige meisie soek korrespondensie met die skrywe "Y". Sy stel haar voor as 'n "redelike" maagd en skryf verder: "My vriendin C sê ek lyk of ek baie vrugbaar gaan wees. Ek herinner haar aan 'n stuk grond met poele water. Ek wys vir haar 'n tekening van blink, glansende lukwarte, grotes en kleintjies en C sê dis nes jy dis nes jy - dis baie vrugbaar."

Leroux, op tipiese Sestigerwyse, praat sommer padlangs oor die liefde. "Y" vertel hoe Josephine hom na die tuin verlei "waar sy my soos 'n vulletjie bespring en haarself agteroor gooi sodat ek met groot moeite ons twee staande hou terwyl sy my waternat soen en Marie Corelli-sentimentaliteite in my oor fluister. Hoe het sy nie met spoegies tussen haar tande in die lig van die kandelaar haar liefdeskode gemurmel terwyl ek 'n hele sakdoek met Drakebloed kleur nie!"

LETTERKUNDE

Miskien doen ek die skrywer 'n onreg aan, deur te veel oor hierdie dinge aan te haal. Die man kan lekker skrywe; dis nie altemit nie. Dit kan ook groot letterkunde wees. Ek weet nie. Ek weet die mense gaan praat oor "18-44", en dis wat die uitgewers mos wil hê!

Ek is klaar aangetas, ek voel ene Sestiger en ek skryf: Ek stryk met my hand oor my blanke, blonde kuite waarop die senings soos my teringmare tante se Dachshund krul en die hoenderhaan kraai maar hy verneuk hom self want dis 'n sonsverduistering omdat 'n kakkerlak oor Napoleon se praalgraaf geloop het, of was dit 'n haar?... Hier kom ek Sestigers!

Persoonlike gereedskap