"As ek my bek kan rek..." (Rapport, 1990-01-07)
Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek
Etienne Leroux was 'n stil en beskeie mens in die alledaagse lewe. Hy het min in die openbaar gepraat. Maar wanneer hy wel gepraat het, was dit ware woorde wat getref het.
By UOVS se ingebruikneming van die Etienne Leroux-navorsingsentrum, 20 Oktober 1977:
"Selfs vir die Afrikaanse 'establishment' is dit belangrik om hierdie soort versetliteratuur (swart, bruin, uitgewekene, verbode) te lees en die gevaarlike inhoud van die woord onder oë te neem. Dit sal ons herinner aan ons eie verlede van protes... En mens wonder wat kom eerste, wat brand eerste: die geboue of die woord.
"Mens wonder ook of die onluste in Soweto werklik só onverhoeds sou gekom het as die politici en die administrateurs kennis geneem het van wat daar geskryf is deur swart skrywers.
"Die ellende is dat daar vandag 'n verwarring is tussen politieke aksie en die literêre lewe. Die terreur in die letterkunde kan onmoontlik nie herlei word tot terreur op die politieke front nie. Die politieke terreur was éérste daar...
"Gee tog vir die skrywer minstens die volgende toe: dat hy niemand in die tronk wil sit nie en dat dit die opposisie is wat hóm in die tronk wil sit."
Die dag by die viering van sy 60ste verjaardag - met die oorhandiging van twee huldigingsbundels deur sy uitgewer, Human & Rousseau - in Junie 1982 in Kaapstad:
"Die Wet op Gemengde Huwelike en die Ontugwet is 'n opstandigheid teen die Goddelike gesag en iets wat ongekend is in die annale van hubris. Dat ons vir jare lank by wyse van wetgewing God kon speel ten opsigte van die liefde gaan my verstand te bowe. En dit nogal deur blanke basters."
En:
"Sensuur is besig om in 'n winterslaap te gaan... maar die pofadder... is op sy gevaarlikste as hy maak asof hy dood is..."
En:
"Laat Breyten vry! ... Dis die allerminste wat ek kan bydra met ek elke geleentheid waar ek my bek kan rek."
By ontvangs van die CNA-Prus vir Magersfontein, O Magersfontein! in 1977, dieselfde jaar dat die boek verbied is:
"Die feit dat een van die mees uitgebreide sensuurstelsels of beheerstelsels (sensuur in Suid-Afrika) nie die skeppende impuls kon kortwiek nie, spreek hier dertig boekdele (wat vir die CNA-Prys in aanmerking gekom het).
"Dit sal interessant wees om te sien hoe ons kollegas, die joernaliste, die spook van 'n moontlike perswet gaan hanteer. Ek dink dit is onmoontlik om 'n wet te maak wat 'n skryfvorm kan beheer, en terselfdertyd vryheid waarborg. Geen wet kan riglyne vir gedagtes bepaal nie; geen wet kan formuleer wat ander móét formuleer nie.
"Ek is so bang die totalitêre, Marxistiese gedagtegang oor kritiek is ook op ons van toepassing. Ek wil nog hoop dat ons hier op die suidpunt van Afrika in vryheid glo. Dis ons kosbaarste besitting. Ons is rumoerige individualiste. Dis ons erfenis."
By dieselfde geleentheid:
"Ek verneem dat ek gelukkig genoeg was om die prys te verower teen iemand soos Breyten Breytenbach. (Breyten was ook op die CNA-Prys se kortlys, maar daardie jaar se beoordelaars - Merwe Scholtz, André Brink en Coenie Slabber - het, onbewys van mekaar, eenparig vir Leroux se Magersfontein, O Magersfontein! gestem.) Ek dink nie dit is onvanpas dat ek van hierdie geleentheid gebruik maak om 'n beroep op die owerhede te doen om begenadiging nie.
"Hy het sy apologia pro vita sua gelewer. Hy is een van die grootste digters van ons taal. Selfs 'n verligte tronk kan die skaars mannetjie, genie, met blindheid slaan... Hierdie oproep van my is nie enig nie. Daarbenewens kan ons jong taal nie die verlies van 'n digter bekostig nie...
"Nadat die politieke revolusie wat dwarsdeur die wêreld aan die gang is, verby is, sal slegs die skrywer onthou word wat in sy werk die magie van skepping kon laat vonk.
"My innige hoop is dat ons Afrika sy dinamiek sal behou; dat 'n sintese gevind sal word te midde van hierdie surrealistiese aanslag op die syn; dat die swart kontinent versoen kan word met die wit lig; dat die totalitêre angs besweer sal word.
"Indien dit nie gebeur nie, is ek, my taal en my medemense wat 'n ander taal praat en skryf - ons almal tesame - in die woorde van Gert Garries - in ons moer."